Saturday, August 30 2008 @ 01:22 PM
 
Henning Families Worldwide
Afrikaans: Hoofkeuselys 
Oorsprong van die naam
Henning Familiewapens
Genealogie
Kennisgewingbord
Skakels
German: Hauptmenu 
Ursprung des Namens
Familienwappen
Genealogie
Anschlagtafel
Verbindungen
English: Main Menu 
Origin of the Name
Coats of Arms
Genealogy
Notice Board
Links
- 
Kontak Ons
Contact Us

Grondwet van die Peter Henrich Henning Familiebond
NADEMAAL PETER HENRICH HENNING, wat gedurende Desember 1740 te Lippstadt gebore is, gedurende 1765 as 'n soldaat in diens van die Hollandse Oos Indiese Kompanie aan die Kaap van Goeie Hoop arriveer het;

EN NADEMAAL genoemde PETER HENRICH HENNING op 10 Julie 1768 te Paarl met ELIZABETH CATHARINA ENGELBRECHT in die huwelik getree het;

EN NADEMAAL genoemde PETER HENRICH HENNING, wat met verloop van tyd PIETER HENDRIK HENNING geword het, op 17 November 1783 VRYBURGER status verkry en besluit het om die Kaap van Goeie Hoop sy PERMANENTE en ENIGSTE VADERLAND te maak, het hy daardeur die STAMVADER van 'n menigte persone met die van HENNING, in die Republiek van Suid-Afrika geword;

NOU DERHALWE is op 'n vergadering van afstammelinge van gemelde PETER HENRICH HENNING, gehou te WIERDAPARK, VERWOERDBURG op die 21ste dag van Julie 1984 besluit om 'n BOND van die naaste van PETER HENRICH HENNING te stig en 'n grondwet met die hiernavolgende bepalings te aanvaar;


GRONDWET

  1. NAAM:
    1. Die naam van die BOND is die PETER HENRICH HENNING FAMILIEBOND en word hierin die BOND genoem.
    2. Die BOND is met regspersoonlikheid beklee en kan in eie naam as eiser of verweerder in regte optree en al die handelinge verrig wat nodig is vir die bereiking van sy doelstellings.
  2. DOELSTELLINGS:
    1. Die bevordering van die samehorigheid en belange van lede van die PETER HENRICH HENNING stam.
    2. Die bevordering van trots in die HENNING familienaam en die verstewiging en instandhouding van sosiale en kulturele bande onder lede van die stam om sodoende kontak met nasate te bou en te bevorder.
    3. Die aankoop en verkryging, op welke wyse ookal, van goedere, roerend sowel as onroerend, wat van tradisionele, geskiedkundige of kulturele belang vir lede van die stam mag wees.
  3. METODES OM DOELSTELLINGS TE BEVORDER:
    1. In samewerking met die Buro vir Heraldiek 'n erkende Bondswapen vir die nasate van PETER HENRICH HENNING te registreer;
    2. Die aanlê van 'n geslagsregister en dit gereeld op datum te hou;
    3. Die daarstelling en uitbouing van 'n familie-argief en/of 'n familiemuseum;
    4. Die sameroeping van gereelde byeenkomste en belê van vergaderings van die BOND;
    5. Die verspreiding van 'n BOND-nuusbrief en wysigingsblaadjies van die geslagsregister;
    6. Die aankoop en instandhouding van bates in klousule B3 hierbo genoem;
    7. Stigting van takke van die BOND in afgeleë gebiede en lande;
    8. Enige ander metode na goeddunke van die bestuur van die BOND.
  4. LIDMAATSKAP EN STEMREG:
    1. Die volgende kategorieë afstammelinge van die stamvader sowel as aangetroudenes, word, behoudens klousule D.4 hieronder, lede van die BOND.
      1. Die HENNING gesinshoof, sy vrou en ongetroude kinders onder 18 jaar.
      2. Persone ouer as 18 jaar wie se vader of moeder deur geboorte 'n HENNING is en so 'n persoon se eggenoot/ote.
      3. 'n Weduwee HENNING al sou sy deur 'n tweede of verdere huweliksluiting 'n ander familienaam hê.
    2. (1) (2)Erelidmaatskap kan aan ondergemelde Klousule D.1 lede toegeken word. Erelede word van enige lidmaatskapsfooie vrygestel.
      1. Lede wat tagtig jaar en ouer is.
      2. Lede wat na die mening van die bestuur buitengewone voortreflike diens aan die familiebond gelewer het.
    3. (3)Die volgende kategorieë persone word behoudens Klousule D.4 hieronder, spesiale lede van die BOND. Geen sodanige aasoek word egter aanvaar voordat dit deur die Bestuur van die BOND goedgekeur is nie.
      1. Persone wat nie aan die vereistes van Klousule D.1 voldoen nie, maar wat een of ander verbintenis met die HENNING familie het.
      2. Persone wat nie aan die vereistes van Klousule D.1 voldoen nie, buitengewone dienste van hoë gehalte aan die BOND gelewer het en deur die Bestuur genooi word om 'n spesiale lid te word.
    4. Die voorreg om op ledevergaderings te mag stem en om op die Bestuur verkies te mag word, word soos volg verwerf:
      1. Ongetroude lede onder 18 jaar het geen stemreg nie;
      2. Lede bo 18 jaar kan die gemelde stemreg verwerf deurdat die gesinshoof of enige enkele lid 'n eenmalige betaling maak soos deur die Bestuur kragtens Klousule F.7 bepaal; andersins deur die jaargeld te betaal wat die Bestuur bepaal. Na sodanige lid en sy/haar eggenoot/eggenote word as 'n volwaardige lid verwys.
      3. In die geval van 'n gesin het die gesinshoof en sy eggenote stemreg op vergaderings.
  5. LEDEVERGADERING:
    1. Kennisgewing van 'n ledevergadering word minstens twee maande voor die bepaalde datum aan volwaardige lede per pos na die adres wat op die register verskyn, gestuur.
    2. (4)Twintig volwaardige lede vorm 'n kworum op 'n ledevergadering. Die Voorsitter van die Bestuur of in sy afwesigheid, die Ondervoorsitter sit by sodanige vergadering voor en by staking van stemme het hy 'n beslissende stem.
    3. Tensy anders hierin bepaal geskied stemming by wyse van die opsteek van hande.
    4. Finansiële state van die BOND word op 'n ledevergadering voorgelê en bespreek.
    5. Ledevergaderings moet een keer per jaar gehou word.
  6. BESTUUR VAN DIE BOND:
    1. (5)Die Bestuur van die BOND bestaan uit 'n Voorsitter, Ondervoorsitter, Bestuursekretaris, Bondsekretaris/Penningmeester (of Bondsekretaris en Penningmeester) en hoogstens vyf bykomende lede;
    2. Die Vooritter (of sy secundus) van afgeleë takke het sitting en stemreg op bestuursvergaderings.
    3. Die lede van die Bestuur word jaarliks op 'n ledevergadering verkies. Enige vakature wat ontstaan weens die uittrede of dood van 'n lid, word tot die volgende ledevergadering deur die oorblywende bestuurslede self aangevul; in die geval van die Voorsitter sal die vakature deur die Ondervoorsitter gevul word.
    4. In die geval van 'n staking van stemme op 'n Bestuursvergadering het die Voorsitter 'n beslissende stem.
    5. Vyf lede van die Bestuur vorm 'n kworum.
    6. (6)Die Voorsitter, Ondervoorsitter,Bondsekretaris/Penningmeester (of Bondsekretaris en Penningmester) en Bestuursekretaris tree as dagbestuur op om daardie sake te behartig wat die Bestuur spesifiek aanwys.
    7. Die Bestuur besluit van tyd to tyd op die heffing wat 'n lid van die BOND eenmalig moet betaal om lewenslank sekere voorregte soos meer volledig in Klousule D.4 hierbo uiteengesit, te geniet, en op die heffing wat andersins jaarliks deur lede betaal moet word om dieselfde voorregte te geniet.
    8. Die uitvoering van alle doelstellings berus by die Bestuur.
    9. Die bestuur open 'n bank- en/of Bouverenigingrekening.
    10. Die boeke van die BOND moet jaarliks ge-oudit word. Behoorlike ge-ouditeerde rekeningstate word voorgelê aan die jaarlikse ledevergadering.
    11. 'n Spesiale ledevergadering moet deur die Bestuur belê word as dertig van die volwaardige lede van die BOND 'n skriftelike versoek, met motivering, tot die Bestuur rig dat 'n speisale ledevergadering belê word. Enige lid wat nie tevrede is met die Bestuur se hantering van sake nie, kan sy beswaar skriftelik aan die Bestuur voorlê. Indien daar nie tot 'n vergelyk geraak kan word nie, kan so 'n lid die handelinge hierbo vermeld volg.
    12. Die Bestuur reël gereelde familiesaamtrekke (minstens een elke vyf jaar) en handel in die verband of op 'n besluit van die ledevergadering of volgens eie oordeel.
    13. Die Bestuur sal minstens een keer per jaar vergader.
  7. BEVOEGDHEDE VAN DIE BESTUUR:
    1. Om roerende en onroerende goedere te aanvaar, verkry, koop, verruil, transporteer en ontvang by wyse van donasie of andersins en om die gelde van die BOND te belê.
    2. Om in belang van die BOND geld te leen teen sekuriteit van vaste eiendom en verbande daaroor te laat registreer.
    3. Om in die algemeen aan die doelstellings vervat in Klousule B.3 hierbo volgens eie goeddunke uitvoering te gee.
    4. Om 'n geding in belang van die BOND in te stel en enige geding wat teen die BOND ingestel word, te verdedig.
      1. Om aansoeke vir die stigting van takke van die BOND te oorweeg en dienaangaande 'n besluit te neem;
      2. Om ten opsigte van aansoeke vir verlof om 'n tak van die BOND te stig, na goeddunke voorwaardes te stel, onder andere, die voorlê van 'n konsepkonstitusie van die tak vir goedkeuring of andersins.
  8. WYSIGING VAN DIE GRONDWET:
    1. Die grondwet kan alleen verander, gewysig of herroep word deur of op gesag van 'n tweederde meerderheid op 'n gewone of spesiale vergadering van die lede van die BOND.
  9. ONTBINDING VAN DIE BOND:
    1. Die BOND mag slegs ontbind word op besluit van tweederdemeerderheid van die kworum, geneem op 'n ledevergadering wat spesiaal vir so 'n doel byeengeroep is.
    2. By ontbinding sal die BOND se bates tot gelde gemaak word deur 'n likwidateur, aangestel deur die kworum. Die likwidateur sal met sulke gelde handel soos aangesê is deur die ledevergadering waarop die BOND ontbind word.
  10. BONDSWAPEN:
    1. Die simboliek van die Bondswapen wat ingevolge Klousule C.1 geregistreer is, moet in 'n amptelike dokument van die BOND beskryf word.
Simboliek van die Bondswapen
Die wapen van die Peter Henrich Henning Familiebond is in Goewermentskennisgewing no 1353 in Staatskoerant 9791 van 21 Junie 1985 amptelik kragtens die Heraldiekwet (Wet 18 van 1962) geregistreer en word as volg beskryf: Wapen: Gedeel rooi en blou, by die middelpunt 'n ossewawiel, daaroorheen 'n swaardlemkruis, alles silwer, vergesel in die skildhoof regs van 'n Afrikanerbul en in die skildvoet regs van 'n kasteel, en links, oor die arm van die kruis heen, van 'n klimmende leeu, alles goud; 'n silwer skildhoof.
Simboliek
  • Die wawiel. Die eerste drie geslagte Hennings was almal Trekboere wat gedurende die laaste paar jaar van die 18e eeu en die eerste helfte van die 19e eeu die onbekende en ongerepte binneland van Suid-Afrika ingetrek het en meegehelp het om hierdie mooi land van ons mak te maak.
  • Die vier swaardlemme. Tydens al die oorloë waar daar om die vryheid van ons land geveg is het die Hennings hul offers vir hul land gebring. Die swaardlemme in die vorm van 'n kruis simboliseer die Christenskap van die Hennings.
  • Die bul. Die Hennings se liefde vir die natuur en die bodem word weerspieel in die feit dat bykans alle Hennings tot aan die begin van die twintigste eeu veeboere was.
  • Die kasteel is geneem uit die wapen van Lippstadt en simboliseer die herkoms van Peter Henrich Henning.
  • Die klimmende leeu simboliseer dapperheid en waagmoed. Die Hennings het bygedra om hierdie land mak te maak.

    1. Verbeter tydends die algemene jaarvergadering gehou op 3 August 1985
    2. Verbeter tydends die algemene jaarvergadering gehou op 18 October 1986
    3. Verbeter tydends die algemene jaarvergadering gehou op 3 August 1985
    4. Verbeter tydends die algemene jaarvergadering gehou op 27 October 1990
    5. Verbeter tydends die algemene jaarvergadering gehou op 27 Octoboer 1990
    6. Verbeter tydends die algemene jaarvergadering gehou op 27 Octoboer 1990


    Last Updated Tuesday, June 21 2005 @ 12:30 AM

     
    Copyright © 2003